CompactFlash (CF) is 'n flitsgeheue massastoortoestel wat hoofsaaklik gebruik word in draagbare elektroniese toestelle. Die formaat is gespesifiseer en die toestelle die eerste keer deur SanDisk vervaardig in 1994.[1]
CompactFlash het die suksesvolste van die vroeë geheuekaartformate geword, deur beide Miniature Card en SmartMedia te oortref. Die daaropvolgende formate, soos SD/MMC, verskeie Memory Stick formate, en xD-Picture Card het strawwe kompetisie gebied. Die meeste van hierdie kaarte is kleiner as die CompactFlash terwyl dit vergelykbare kapasiteit en spoed bied. Handelsmerkgeheuekaartformate vir gebruik in professionele klank en video, soos P2 en SxS, is vinniger, maar fisies groter en veel duurder.
CompactFlash bly gewild en word ondersteun deur baie professionele toestelle en hoëwaarde verbruikerstoestelle. Teen 2014 het beide Canon[2][3] en Nikon [4] CompactFlash vir hul vlagskip digitale kameras gebruik. Canon gebruik ook CompactFlash as die opnamemedium vir sy professionele hoë-definisie bandlose videokameras.[5] Ikegami professionele videokameras kan digitale video op CompactFlashkaarte opneem deur middel van 'n addisionele passtuk.[6]
In 2008 is 'n variant van CompactFlash, CFast aangekondig. CFast (ook bekend as CompactFast) is gebaseer op die serie-ATA-koppelvlak eerder as die parallele-ATA-koppelvlak wat gebruik word deur die oorspronklike CompactFlashkaarte.
In November 2010 het SanDisk, Sony, en Nikon 'n volgende generasie kaartformaat aan die CompactFlash-vereniging bekendgestel. Die nuwe formaat het 'n soortgelyke vormfaktor as CF/CFast maar is gebaseer op die PCI Express koppelvlak in plaas van parallelle of serie-ATA.[7][8] Met moontlike lees- en skryfspoed van 1 Gbit/s (125 Mb/s) en stoorvermoë groter as 2 TiB is die nuwe formaat gemik op hoë-definisie camcorders en hoë-resolusie digitale kameras, maar die nuwe kaarte is nie terug-versoenbaar met óf CompactFlash of CFast nie. Die XQD-kaartformaat is amptelik deur die CompactFlash-vereniging aangekondig in Desember 2011.[9]